Die ramparty: my eerste vertaling

Die ramparty: my eerste vertaling

Dina le Roux

As student was ek nie veel oor etiket gepla nie. Maar toe die eerste paartjie in ons vriendekring trou, het ek biblioteek toe gepiekel en ’n boek deur Emsie Schoeman oor etiket uitgeneem.

Soos aanbeveel, het ek nie wit by die bruilofsfees gedra nie en ek was tydens die toesprake mooi stil. Al was dit nie volgens die boek reg nie, het ek kontant gegee omdat die bruidspaar wou emigreer, maar dit was in ’n mooi kaartjie met ’n handgeskrewe boodskap. Die oumas en oupas was mal oor my goeie maniere.

Ek het nie geweet ek gaan weer met Tannie Emsie se skrywes te doen kry nie.

Die “werkie” wat by my spook

Ek het as tutor by Tuks gewerk terwyl ek my Honneurs gedoen het. Een van die dosente het geweet ek studeer tale en het gesê dat sy vir my ’n vertaalwerkie vir Bruidsgids het. Sy sou my vertaling nasien.

Dit was my eerste betaalde vertaalwerk. Ek het nie geweet waarvoor ek myself inlaat nie.

Ek onthou ek het twee artikels uit Afrikaans in Engels vertaal. Maar “Die ramparty” spook by my. Dit was ’n taal- en kultuurskok – veral omdat ek pas die opwinding van ’n “jongmenstroue” beleef het.

Die manne geniet ’n drankie by geleentheid

Suid-Afrika se Mevrou Etiket het voorgestel dat iemand (vermoedelik ’n vrou) vleis en bykosse regmaak sodat die bruidegom, sy boesemvriende en ouer mans lekker om ’n braaivleisvuur kan kuier, sedelike gesprekke oor die toekoms kan hou en wyshede oor die huwelik kan deel.

Ek het die indruk gekry die ramparty was een van die min geleenthede waar ’n mens met korrekte etiket ’n drankie mag geniet. Miskien aan ’n whiskey teug terwyl die manne diep gesels.

Wat maak mens met “ons is nie so nie”?

Die ramparty vir my vriend was nie soos die voorstel in die artikel nie. Net toe ek wonder of Tannie Emsie weet wat ’n ramparty deesdae behels, vertel sy ’n staaltjie oor ’n jong vriend by wie sy gehoor het van die moderne rowwe en lawaaierige rampartye. Sy eindig die paragraaf met: “Ons is nie so nie.”

Dit is hier waar ek vir die eerste keer regtig verstaan dat vertaling nie net oor taal gaan nie. In Engels word die ramparty soms as “the last hurrah” beskryf. “The bachelor’s party” impliseer dat daar te veel gedrink word en dat dit dalk beter is as die bruidjie nie weet wat daar gebeur het nie. Is ’n “ramparty” ooit dieselfde ding as ’n “bachelor’s”?

Hoe op dees aarde vertaal mens daai afkeurende “Ons is nie so nie”? Daar is die woorde en dan is daar die nuanse: as jy as Afrikaanssprekende nie beplan om ’n keurige ramparty te hou nie, moet jy diep sleg en skuldig voel.

Ek sit met die gebakte pere en leer baie oor vertaling

Ek was ’n student; dus het ek ’n bietjie gehanna-hanna met die vertaling. Toe ek vassit, was dit te laat om net vir die dosent te sê dat ek dit eenvoudig nie kan doen nie en dat sy iemand anders moet vra.

Ek was ongelooflik verlig toe ek onthou dat dit nie ’n eksamen of ’n werkstuk was nie. Ek kon ander mense vra om te help, want “we aren’t like that” het net nie reg geklink nie.

Hier leer ek ’n groot les: selfs ervare vertalers sukkel met uitdrukkings soos “ons is nie so nie”.

My ma is ’n vertaler. Ek bel haar by die werk, al is dit nie ’n noodgeval nie. Sy sê sy sal moet dink. Kan ek later by die huis vir haar wys? Ek antwoord paniekerig dat ek die vertaling daai middag moes wegstuur. Ek gaan klop aan my dosent se deur en sy het ook nie ’n antwoord wat dadelik reg voel nie.

En toe leer ek nog iets: as mens regtig vashaak, kan mens met die werkgewer onderhandel. Ons het nog ’n dag vir die vertaling gekry.

So, hoe vertaal mens “ons is nie so nie”?

Ek kan nie onthou wat ons toe op die ou end gedoen nie. My studente-e-posadres bestaan al jare nie meer nie. Ek onthou wel die paniek wat ek ervaar het.

Maar ek het geleer dat daar ’n enorme verskil is tussen iemand wat tweetalig is en iemand wat kan vertaal. En dat selfs gesoute vertalers versigtig moet nadink oor moeilike woorde en frases.

Het jy ’n vermaaklike storie oor jou eerste vertaalervaring? Of is daar ’n vertaalstorie wat jy graag wil deel? Stuur ‘n epos aan dinamarieleroux@gmail.com

Related Articles

Responses